Hero background
English Loopbane Kontak Insigte Login
DiensteInsigteKontak

Hou Jou Oë Op Die Langtermyn

Deur Guillaume Oberholzer, 9 April 2019

Q1 Y19

Met verwysing na ons vorige skrywe was die prys van Kersliggies toe beurtkrag. Die moontlikheid is groot dat ons nog nie klaar betaal het nie en dat beurtkrag weer ingestel kan word. Wat meeste belastingbetalers egter nie weet nie is dat Eskom R4.6 miljard se diesel verbruik het om beurtkrag tot 'n minimum te beperk, terwyl daar vir die finansiële jaar net R670m se diesel begroot is.

Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) het 'n nuwe kommissaris in Edward Kieswetter. Hy was deel van die uitvoerende span toe Pravin Gordhan kommissaris van die SAID was en het hom goed van sy taak gekwyt. Ons hoop net Mark Kingon bly ook deel van die huidige span.

Die JSE het vir die 3 maande 7.97% gestyg. Dit is nie noodwendig net goeie nuus nie, aangesien sommige aandele baie gestyg het en ander baie gedaal het. Kumba Iron Ore het amper 60% gestyg terwyl EOH omtrent 65% gedaal het. British American Tobacco het 30% gestyg, maar in die laaste 6 maande van 2018 omtrent 50% van sy waarde verloor.

Die enigste sigbare tendens is dat aandele wat meeste van hulle sake in Suid-Afrika doen se winsgroei en gevolglik hul prys, onder baie druk verkeer. Shoprite 13% af, Truworths 18% af, Mr Price 20% af, Massmart20% af, ens.

Oor die afgelope 6 maande is die JSE egter slegs 2.56% positief. Ons bly egter van mening dat nou, meer as ooit, 'n belegger sy oë op die langtermyn moet hou. Uit bogenoemde aandele-prestasies sien ons ook dat goeie bestuur van fondse asook bate allokasie belangrik is binne 'n kliënt se totale portefeulje.

Wat Maak dat Aandeelpryse So Wisselvallig Is?

Die twee grootste faktore wat aandeelpryse dryf is ekonomiese groei en waardasie.

Ekonomiese groei in Suid-Afrika en wêreldwyd is tans onder druk met die vooruitsigte in die korttermyn nie te rooskleurig nie. In die huidige omstandighede veroorsaak dit dat maatskappye se winsgroei klein tot soms negatief is. Enige ekonomiese nuus wat bekend raak, plaaslik en wêreldwyd, word in die mark geabsorbeer binne minute. Meestal is daar 'n oorreaksie in pryse teenoor die nuus en later normaliseer die pryse weer.

Waardasie is 'n subjektiewe konsep omdat daar soveel veranderlikes en onbekendes is. Verskillende waardasie-modelle word ook gebruik. Op die ou end besluit 'n mens (of 'n span mense) wat hy bereid is om te betaal vir 'n maatskappy se wins en potensiële winsgroei.

Met soveel deelnemers (batebestuurders, adviseurs, individue, ens.) aan die mark op 'n daaglikse basis wissel pryse baie.

Wisselvalligheid word ook deesdae aangehelp deur geprogrammeerde verhandeling wat deur 'n rekenaar uitgevoer word, termynkontrakte, hefboom aankope en die mens se strewe na korttermyn resultate.

Ekonomiese groei, winsgroei en waardasie neem tyd om te herstel en te realiseer. Hou jou oë op die langtermyn.

Q2 Y19

Die verkiesing behoort 'n waterskeidingsoomblik vir Suid-Afrika te wees. Sou die ANC met 'n sterk meerderheid wen, behoort Cyril Ramaphosa 'n mandaat te kry om sy agenda te volg. Ons is van mening dat daar dan duidelike ekonomiese en politiese beleid sal wees en dit 'Mn positiewe effek op die sakeomgewing behoort te hê.

Kontak gerus een van ons kundige adviseurs indien u verdere inligting verlang.

Bostaande is slegs ter inligting en is geensins advies nie. Boshoff Visser Konsult Edms. Bpk. raai alle lesers aan om met 'n kundige finansiële adviseur in verbinding te tree voordat enige besluite geneem word.